Nou is die tyd…

Dit is vir my ‘n enorme voorreg om saam te kan skryf met ander ongelooflike vroue van geloof! Dankie Carpe Diem Media en @finessevoelgoedtydskrif vir die geleentheid. Nóú is die tyd ..om van emosionele bagasie genees te word. Aanlyn beskikbaar by www.voelgoedboeke.co.za (ook beskikbaar as e-boek)

Advertisements

U is die pottebakker ek is die klei

Ek ontvang die ander dag ‘n oproep : ” Tara kan jy asb ‘n motiverings praaitjie by ons gemeente kom gee? ”

My gedagtes word dadelik gedompel in self twyfel… Ek ? Watse kwalifikasies het ek om ander te motiveer? Ek stap dan self deur die donker en hartseer kamers van die lewe? Sielsoekend oudit ek al my tekortkominge, terwyl daar ‘n lied aanhoudend maal in my gedagtes ” U is die pottebakker ek is die klei ”

En toe tref dit my- Ons bepaal nie hoe ons gevorm en gemaak wil word nie. Soos klei in die pottebakker se hand, so is ons in Sy hand. Hy kan met ons maak net wat Hy wil!

Jesaja 64:8 stel dit mooi: “U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm,

ons is almal die werk van u hande.”

God is deur al eeue lank besig om sy volk te vorm soos Hy hulle wil hê. As dit lyk of sy

vormwerk misluk, is dit nie God se skuld nie.

Die fout lê by die klei. God gee altyd vir ons ‘n keuse of ons ons wil laat vorm na Sy wil.

God is besig met jou. Hy gebruik onvolmaakte mense soos ek en jy . Wanneer ons bereid is om deur God gebruik te word sal jy groot dinge vir Sy koninkryk kan doen. So gaan Skryf en praat jou stories. As ‘n kind van God is jy gekwalifiseer om ander te inspireer.

Die Onvrugbare Wagkamer van Hoop

IMG_9726.JPG

Infertiliteit is ‘n veranderlike monster wat stadig nader sluip en ‘n hap hier en ‘n byt daar uit jou hart steel . Dit voed op jou lewe, op jou verhoudings. En as jy nie versigtig is nie, sal die bitterheid jou huwelik verteer en jou wegdryf van God.

Vir ‘n lang tyd, het ek nie die monster erken nie. Maar op ‘n pragtige Namibiese sonskyndag, terwyl ek myself gereed kry vir my uitsaai skof op die radio sien ek dit weerkaats in die spieël. Dit staar terug na my deur die dofheid in my oë en die stres lyne rondom my mond, Ek het nie altyd so gelyk nie.

My oë draai na ‘n foto wat skeef op die spieël-kas staan, waar ek en my man lag vanaf die grense van die silwer raam. Met Shaun se arms wat my skouers omvou, styg Tafelberg agter ons tot bo-op die prentjie. Die Kaap was so mooi daai jaar . En ons was twee jong verliefdes wat hand-aan-hand deur die strate van Kaapstad gewandel het. Ons was onskuldig, verlief, en het uitgesien na ‘n toekoms gevul met die belofte van giggelende kinders. Maar dit was Vóór Infertiliteit.

Weg was die lag en liefdevolle vrou met wie my man getroud was. In plaas daarvan, het ek soos ‘n vrou gevoel wat gebroke, maand na maand in ‘n swart gat van skaamte en hartseer vasgekeer is . Ons hele lewe was gebaseer op die lesing van ‘n ovulasie voorspeller stok, inspuitings, medikasie, ondersoeke, hormone, gewig en hoop. Hoop wat elke maand gekom het en weer gegaan het.

Met ellke maand wat verby gaan sonder die moontlikheid van ‘n baba, het daai monster net sterker geword en aanhoudend geknaag aan alles wat mooi is. Op een of ander manier het ons tog mekaar in hierdie pyn gevulde reis deur infertiliteit steeds bygestaan met onsaglike liefde. Al was ons so gefokus op die doel van ‘n baba dat ons blind geraak het vir almal en alles om ons.

Humor speel natuurlik in die begin ‘n baie groot rol, maar met elke jaar wat verby gaan verander glimlagte in trane en na vier jaar het ons die finale nuus van ons Dokter ontvang. “Daar is geen moontlikheid vir julle om normaal swanger te raak nie” Met my Dr se woorde wat rondspring in my gedagtes skets ek my hele toekoms in ‘n sekonde, gedagtes gevul met Labrador Hondtjies, en ou Niels ons kat, ons sal heeltemal okey wees sonder kinders, probeer ek met die laaste biki hoop myself verseker.

In plaas van bitterheid, was ek seer. Iewers agter daardie sterk bitter muur het ek geweet dat kwesbaarheid my kaartjie uit ‘n harde hart sou wees. En daardie aand het ek met alles binne my met God gepraat. Dit het soos ‘n stroom van bewussyn-verhandeling van denke gevoel. My hart het stadig oopgemaak, terwyl ek die woorde van Psalm 18 vers 7 lees asof ek die skrywer was. “In my angs het ek tot die HERE geroep, tot my God geroep tot hulp. In sy heiligdom het Hy geluister.” Hierdie antieke, woorde het aan my hart ‘n taal gegee terwyl ‘n traan uit die hoek van my oog af gly.

Ek was in hierdie oomblik, oop en rou voor God. Deur toe te laat dat my hart bloei, het ek erken met my lewe dat God veilig genoeg is om die gebroke dele van my vas te hou. Ek wag al jare in die wagkamer van infertiliteit, maar die wagkamer het nou baie anders begin lyk.. My prioriteite het in die wagkamer verander. My prioriteite is eenvoudig God en my man Shaun.

Hierdie hart bloeiende oomblik is God se heilige plek om in grotte van jou hart nog nooit tevore verken te beweeg. Hierdie oomblik is gemaak vir ‘n gesprek met God, vir jou om jouself oop te maak vir sy Woord en sy fluister. Hy is nader as ooit omdat jy uiteindelik jouself toestemming gee om alles voor hom neer te le.

God is nader aan die gebrokenes as wat ons ooit onsself sal toelaat om te verstaan. En dit is in hierdie gebroke tye waar jy jou mees glorieryke oomblikke sal vind. . . as jy dit toelaat.

Daardie aand het ek die eerste stap in die doodmaak van die monster wat ons huwelik wou oorneem gevat. Ons het besluit om nie toe te laat dat infertiliteit alle aspekte van ons lewe in kleur nie. Deesdae, deur al die maande en jare, groei ons huwelik net sterker, ten spyte van die spanning van infertiliteit. Vandag gaan daar nie een dag verby wat ons nie speel en lag of mekaar oorval met liefde nie. Shaun is my beste vriend en rots en ek is ongelooflik dankbaar dat God my met hierdie spesiale mens in my lewe, geseën het.

En met elke inspuiting wat my man met soveel liefde vir my gee, weet ek dat dit alles deel is van God se plan. Ons hoop en Bid nogsteeds in ons onvrugbare wagkamer, maar hierdie keer wag ons met oop harte wat oorvloei met God se liefde.

…..En na jare onthou ek uiteindelik daai vrou wat eens voor Tafelberg, hand aan hand saam met haar beste vriend, vol liefde en hoop vir die kamera geglimlag het.

Die Onskuldige Kuns teen die Yskas

IMG_9717.JPGAs ek in my ouerhuis instap herinner my sub A kunswerk, wat ma natuurlik met trots geraam, teen al haar mure hang, my weer aan ʼn insident van jare gelede.

Ek was in die kleuterskool en ons moes ons familie skilder. Dit is tog sekerlik die eerste sielkundige toets in enige kind se lewe. Die toets wat ʼn onderwyser se deur oop maak na die diepste kamers van ʼn kind se hart en gedagtes.

Met opgewondenheid gryp ek al wat ʼn kruit, gereed om my familie in al hulle glorie op papier vas te lê. Na amper ʼn heeldag se kreatiewe uitbeelding, kom sit my juffrou langs my en vra: Tara jy het almal in jou gesin so mooi geteken, maar waar is pappa? Ek kan myself net indink wat deur my onderwyser se kop moes gaan. Alle sielkundige rooi ligte het seker onophoudelik in haar gedagtes geflikker.

Om die gebeure wat volg te verstaan moet julle weet dat my pa se hare al spier wit grys was nog voor ek ʼn gedagte was. Ouma glo dit hardloop in die gene.

Ek antwoord terug met die woorde: Juffrou ek kan nie vir pappa teken nie, my pa se hare is heeltemal grys en hier is niks grys kryte nie. Juffrou was natuurlik heel taktvol en verseker my dat daar gesoek sal word na ʼn grys kruit sodat ek in die toekoms vir pappa ook in my familie kunswerke kan uitbeeld.

Blykbaar het my ma-hulle baie lekker saam met my juffrou gelag oor die grys kruit storie.

Ons kinders se onskuldige kuns teen die yskas het almal ʼn storie en dit is gewoonlik ʼn lekker lag storie of selfs ʼn mooi storie. Ek hou van lekker lag en mooi stories, maar as ʼn joernalis moet ek meeste van die tyd inspring in ʼn wêreld waar dit blyk asof die mooi en lag iewers tussen al die hartseer, gehervestig is na ʼn plek van herinneringe.

Vir die kinders in oorlog geteisterde lande lyk yskas kunswerk heelwat anders.

Siriese kinders het verlede jaar op ʼn stasie in Milan gewag vir ʼn trein om hulle na die noorde van Europa te neem. Terwyl hulle vir die trein wag, het die organisasie “save the children” aan hulle die geleentheid gegee om te teken. Volgens Vittoria Ardino, ʼn sielkundige en president van die Italiaanse organisasie vir die studie van traumatiese stres, kon die kinders enige iets teken.

Gegewe die omstandighede in Sirië is dit seker nie ʼn verassing dat meeste van die kinders se kunswerke oorlog of die vlug vanuit konflik gebiede uitgebeeld het nie.

Daar is baie wat ons kan leer van kinders se kunswerke. Dit is een van die mees effektiefste hulpmiddels vir volwassenes om kinders te kan verstaan. En selfs al kan kinders nog nie hul omstandighede in woorde uitbeeld nie kan hulle hul gevoelens omskep in figure en vorms.

Wat egter baie interessant is, is dat tussen al die konflik en nood, die Sielkundige veerkragtigheid in die kunswerke kon opspoor wat beteken dat hierdie kinders steeds iewers in hulle klein hartjies, hoop het.

Ek en jy skilder vandag nog. Ons lewe is ʼn kunswerk vol lekker lag en mooi stories, maar daar is ook stories wat nie so mooi is nie, stories wat ons harte laat huil en stories wat ons wens ons kan uitvee.

Dalk voel jou kunswerk vandag leeg en hartseer en wil jou hart net nie die mooi lyne verf soos menigmale tevore nie. Soms het jy, nadat jy met jou kunswerk geworstel het, nodig om op jou vaal mat te gaan sit en al jou seëninge op jou vingers en tone te tel.
Oorvloed lê in genade. Daardie genade wat jy, as jy mooi kyk, in die kleur van die sonneblomme wat jy self geplant het, of die purity spatsels op jou splinter nuwe tafeldoek sal raaksien.

Geloof is die spilpunt, die bron van hoop, geluk, sterkte en troos in tye van nood. Met soveel dinge wat elke dag verkeerd kan gaan in ons lewe, ervaar ons steeds ongelooflike Genade van Bo.

Daar is altyd Genade, hoop en liefde en hier vanuit ontstaan van die wêreld se mooiste kunswerke. Ek en jy. Ons is almal deel van God se kunswerk, Sy skepping. Ons is vasgepen teen ons Hemelse Vader se yskas, daar waar hy elke dag met Sy liefde na elkeen van ons kyk.

Die Onperfek en Pragtige jy

IMG_9681.JPG
As ek terug dink aan my kinderjare, is daar seker nie een gedagte of herinnering wat nie op een of ander manier, inpas by die wêreld van ballet nie. Ek het dalk eers fisies begin dans toe ek drie jaar oud was, maar ek was al deel van die ballet wêreld saam in my ma se maag en twee weke na my geboorte was ‘n Ballet Ateljee waar ek meeste van my tyd spandeer het. ‘n Sprokies wêreld waar dogtertjies rond trippel met sagte pienk rokkies en satyn skoene. En as dit konsert tyd was het alles, van die kostuums tot die dekor met kristalle en sprokie gesprankel.

Ek sal nooit my eerste paar pienk satyn balletskoene vergeet nie. Nie daardie wat jy kry met jou eerste ballet klas in Tiny Tots nie, maar die waarvoor jy jare hard moes werk om op te mag dans as jou eksaminator besluit dat jy en jou enkels uiteindelik gereed is vir hulle. Ek kon nie ophou staar na my perfekte mooi satyn balletskoene nie.

Min mense besef egter dat vir ballerinas om so mooi te kan dans op daardie pragtige balletskoene, moet die skoene eers deur ‘n strawwe ritueel gaan. Elke danser moet haar skoene self laat aanpas by haar voete. Sommige dansers slaan die skoene teen die vloer om die gips sagter te maak, ander sit vir ure met die balletskoene aan, onder warm komberse sodat die gips die vorm van haar tone kan aanneem. Linte word aangewerk en in my tyd het ons nog pienk garing op die punte vasgewerk sodat jy nie gly as jy on point gaan nie, deesdae plak hulle ‘n lagie leer op die punt van die skoen vas. Dan vat jy daai perfekte satyn skoene en plaas hulle in ‘n deurkoesyn en maak die deur oop en toe, sodat die skoen meer beweging het as jy on point of demi point gaan. En dit is nog vêr van klaar, na jou eerste ballet klas is jou tone stukkend en vol blase gedans jou pragtige skoene besmeer met bloed en topikaal medikasie wat die pyn dood maak. Nie meer so perfek nie.

Maar as jy na ‘n danser gaan kyk sweef sy altyd elegant oor enige verhoog, haar passies vloei mooi in mekaar en met daai ingebreekte vaal balletskoene dans sy mooier as ooit.

Soos splinter nuwe pienk satyn balletskoene vars van die fabriek ontmoet ons ook die wêreld met ons eerste asem as perfekte klein mensies. En met elke jaar wat verby dans word jou persoonlikheid, karakter en waardes ook deur die rituele van die wêreld getoets, geskaaf en gevorm.

In die Bybel leer ons van verkeie persoonlikhede, gebroke en ongelowige mense. Dit kan egter baie fassinerend wees om hierdie mense te bestudeer. Wat ons egter hieruit leer is dat God op een of ander manier gewone mense soos ek en jy op een of ander manier gebruik het. Mense wat net mense was. Vol foute. Vol sonde. Vol ongehoorsaamheid. Die onperfekte. Ja, soms met soveel tekorte, dat ‘n mens amper nie kan glo dat God juis met hierdie mense ‘n pad wou stap nie. In werklikheid as jy mooi gaan kyk sal jy sien dat die onderligende tema van die Skrif, inperfeksie is. Kyk maar na Jonah hy het alle teorieë vernietig dat God net die Heilige perfekte mense gebruik om sy grootste doelwitte te vervul. Jonah en soveel ander in die Bybel was saam kragtige instrumente in God se hande.

As jy my nou moet vra watter van my balletskoene vir my die mooiste is, sal ek altyd wys na die skoene wat al vaal en effens geskeur is, die wat al begin verbrokkel het en die wat met bloed gevlek is. Want dit is daai gebroke skoene wat dit moonlik gemaak het vir my om op my tone te kon dans, dis die skoene wat my soos ‘n handskoen onperfek gepas het.
God soek nie volmaaktes nie. Hy soek bereidwilliges. En as ons vaal, sal Sy oop arms daar wees, Sy liefde, wat alles in hierdie wêreld oortref.

Onperfek met seer en al ons foute pas ek en jy soos ‘n pragtige ingebreekte balletskoen in God se perfekte Koningkruik.